Welkom by die Stadskoor Tygerberg

Registreer vir ons distribusielys


 

Die Stadskoor Tygerberg is in 1977 gestig en koorlede kom hoofsaaklik uit die noordelike stadsgebied, maar ook uit die Helderbergstreek en Mitchells Plain.

Die repertorium van die koor bestaan uit geestelike en sekulêre musiek wat strek vanaf die Renaissance tot die moderne era en sluit onder meer oratoria, misse, uittreksels uit operas, operettes, musiekblyspele en verwerkings van volks- en etniese werke in.

Die koor het met verskeie simfonie-orkeste opgetree waaronder die Oos-Kaapse Filharmoniese-orkes (1996), die Hampshire County Youth Orchestra (1998) olv John Rutter en die Kaapse Filharmoniese-orkes (2001, 2002 en 2008). Hulle vorm ook deel van die massakoor vir die openingsseremonie tydens die Krieket Wêreldbeker (2010) olv Edward Aitchison.

Die Stadskoor Tygerberg het ook aan Koorwerkswinkels saam met Eric Ericsson (1993) en Kåre Hanken (1997 en 1998) deelgeneem. Tydens die McLachlan Koorwerkswinkel (2004) voer hulle Die Skepping van Haydn olv Kåre Hanken en die volgende jaar Beethoven se 9de Simfonie met die Wasbe-konferensie olv Jon Robertson, asook uittreksels uit die Requiem van Hidas olv Laszlo Marosi, uit.

In 1995 onderneem die koor sy eerste oorsese toer met optredes in Nederland, Switserland en Duitsland. Die koor se eerste CD word in 2000 vrygestel.

Die Mozart Requiem olv Louis van der Watt word in 2006 en Liszt se Via Crucis asook enkele Korale van Bach olv Rudolf de Beer in 2007 uitgevoer. Die koor was ook deel van die massakoor wat Carl Orff se Carmina Burana saam met die Kaapse Filharmoniese-orkes in Kirstenbosch en later dieselfde jaar, Mendelssohn se Psalm 95 en die 2de Simfonie olv Bernard Gueller in die Kaapse stadsaal uitgevoer het. In 2012 tree die koor saam met die komponis en dirigent Branko Stark tydens ´n koorseminaar vir koordirigente op.

Sedert Junie 2012 staan die koor onder die leiding van Linda Claassen. In November 2012 bied hulle Saint-Saëns se Oratorio de Noël saam met ander werke van Bizet, Duruflé, Fauré en Gounod aan. Tydens die Pase van 2013 voer die koor Charles Wood se Markuspassie in verkeie kerke uit en in Mei neem hulle deel aan die Suider Sanctus CD-projek van die Oratoria van St Filip Neri o.l.v. Acama Fick. In Oktober 2013 bied die koor, in samewerking met die Symphony Choir of Cape Town en die UCT Symphony Orchestra, twee uitvoerings van die Brahms Requiem aan Alex Fokkens het as dirigent by hierdie geleentheid opgetree.